| 2011-Wyndruiwe-oes sal kleiner wees |
23 FEBRUARIE 2011 - PERSVERKLARING Die 2011-oes sal na verwagting ongeveer 0.3% kleiner as die 2010-oes wees. Dit word tans op 1 255 561 ton geraam na aanleiding van opnames wat middel Februarie deur produsentekelders en wingerdkundiges in die onderskeie streke gedoen is. Afgesien van die totale afname, verwag sewe distrikte steeds ‟n groter oes as in 2010. Na verwagting sal die 2011-wynoes - sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit - 969.3 miljoen liter beloop, bereken teen ‟n gemiddelde verhaling van 772 liter per ton druiwe.
Afnames teenoor die Januarie-skatting kan hoofsaaklik aan die volgende redes toegeskryf word:
- Vloedskade en reën wat sedert Desember 2010 in die Oranjerivier-streek voorgekom het. Die omvang van hierdie skade vir produsente beloop enorme bedrae. Talle wingerde is oorstroom, wat aanleiding gegee het tot totale oesverlies vir daardie blokke. Daarteenoor het druiwe in heelwat ander blokke begin vrot met talle swamsiekte-uitbrake. Daar word geraam dat minstens 36 000 ton druiwe van die aanvanklike verwagte wyndruifoes deur die vloed en reën vernietig is - hierdie syfer mag dalk verhoog.
- Tros- en korrelgroottes is kleiner as ander jare en trosse kom oor die algemeen losser voor. Dit kan hoofsaaklik aan swakker set en Millerandage ("hen- en- kuikens") toegeskryf word.
- Beperkte besproeiingswater weens lae watervlakke - met die uitsondering van die Oranje- en Olifantsrivier-distrik - het ʼn impak op die grootte van die oes, terwyl hittegolwe tot sonbrand- en hitteskade aanleiding gegee het. Die grondwaterstatus van droëlandwingerd is laag en wingerde toon simptome van vogstremming.
- Siektedruk en vrot het alreeds oesverliese meegebring.
Wynmakers en wingerdkundiges is tevrede met die gehalte van druiwe wat tot dusver gepars is. Druiwe is meestal gesond met goeie ontledings, en veral rooi kultivars se gehalte blyk op hierdie stadium uitstekend te wees.
Binnelandse verkope van natuurlike wyn vir 2010 toon dat die mark met 2.7% gegroei het. Daarteenoor het uitvoere van totale natuurlike wyn gedurende 2010 met 4.6% gedaal. Brandewynverkope toon „n 7.0% daling gedurende dieselfde periode.
Die voorraadvlak op 31 Desember 2011 by produsente- en privaatkelders sal na raming tot „n vlak van 314,1 miljoen liter daal, vergeleke met 338,3 miljoen liter op 31 Desember 2010.
Vir verdere navrae skakel gerus vir Yvette van der Merwe (tel 021-807 5703, faks 021-807 6000, e-pos http://wosa.co.za/admin/yvette@sawis.co.za).