search
GO
WOSA logo
about us become a WOSA member board members worldwide contact details library how to export
SA WINE INDUSTRY
LATEST VIDEO
Click here for full size video
View the WOSA Video Archive
2012-wyndruiew oes - in alle distrikte groter as in 2011, behalwe Stellenbosch

9 DESEMBER 2011 - PERSVERKLARING

Die 2012-wyndruifoes behoort 1 351 714 ton te beloop, volgens die bedryf (produsente-kelders en wingerdkonsultante) se oesskatting van 29 November 2011. Dit verteenwoordig `n toename van 3.9% op die 2011-oes, maar is steeds 5.2% kleiner as die rekord-oes in 2008. Na verwagting sal die 2012-wynoes - sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit - 1 043.4 miljoen liter beloop, bereken teen `n gemiddelde verhaling van 772 liter per ton druiwe.

In al die wynstreke, met die uitsondering van die Stellenbosch-streek, word `n geringe tot 17% toename op die 2011-oes geskat. Die alternerende op-en-af tendens wat kenmerkend is van die Oranjerivier-streek se oes, word vanjaar weer voortgesit. Na die redelike klein 2011-oes, hoofsaaklik as gevolg van vloedskade, word hul oes op ongeveer 17% hoër geskat.

Die belangrikste redes wat tans aangevoer word vir die verwagte styging in die 2012-oes, is:

Goeie winterkoue het goeie en gelyke uitbot tot gevolg gehad.

Oor die algemeen tot dusver `n baie gesonde jaar met koeler/matige weerstoestande die afgelope twee maande wat tot geil groeikrag aanleiding gegee het.

Die berugte stormwinde wat baie skade kan aanrig, het ook tot dusver weggebly.

Faktore wat wel nog in die komende maande `n uitwerking op die oes kan hê:

Die koeler weerstoestande in die blom- en setperiode het tot swak en ongelyke set (baie hen-en-kuikens) aanleiding gegee, wat moontlik `n afname in die totale oesgrootte kan meebring - die uitwerking daarvan sal eers later sigbaar wees. Die feit dat vrugteprodusente, wat reeds begin oes het, rapporteer dat vruggroottes vanjaar kleiner as normaal is, is `n duidelike bewys van die impak ten opsigte van gemelde weerskommelinge.

Huidige watervoorrade in die Stellenbosch-, Paarl- en Malmesbury-streek is onvoldoende vir die seisoen se besproeiingsbehoeftes en opvolgreën vir die res van die seisoen sal belangrik wees om die oes ryp te maak.

Weerstoestande gedurende die res van die seisoen sal natuurlik ook die laaste sê oor die finale oesgrootte, asook die gehalte van die oes, hê.

Binnelandse verkope van natuurlike wyn vir die 12-maande periode November 2010 tot Oktober 2011 toon dat die mark met 4.0% tot 311.8 miljoen liter gestyg het, vergeleke

met die ooreenstemmende tydperk die vorige jaar. Uitvoere van natuurlike wyn gedurende dieselfde tydperk het met 7.2% gedaal, met verpakte wyn wat `n negatiewe groeikoers van 19.7% toon, terwyl grootmaat wyn met 12% gestyg het. Die daling in uitvoer word aan die globale ekonomie, die probleme in die Eurosone, ons grootste mark, en die wisselvallige rand toegeskryf.

Die voorraadvlak op 31 Desember 2012 by produsente- en privaatkelders sal na raming tot 430.6 miljoen liter styg, vergeleke met 406.4 miljoen liter op 31 Desember 2011.

Vir verdere navrae skakel gerus vir Yvette van der Merwe (tel 021-807 5703, faks 021-807 6000, e-pos yvette@sawis.co.za).

YVETTE VAN DER MERWE

UITVOERENDE BESTUURDER