VinPro

Kleiner oes en kostestygings kwel in 2016

by | Mar 1, 2017

{C}{C}

’n Kleiner wyndruifoes en skerp kostestygings het in 2016 daartoe gelei dat heelwat wyndruifprodusente se finansies erg geknou is.

 Volgens VinPro se Produksieplan-opname het die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndruifprodusent verlede jaar ’n netto inkomste van R6 702/ha behaal – 10% minder as in 2015. Die jaarlikse opname behels ’n kosteontleding op plaasvlak waaraan 235 primêre produsente uit nege wynstreke in 2016 vrywilliglik deelgeneem het.

Wispelturige jaar

“Die 2016-produksiejaar sal deur baie produsente onthou word as die jaar van uitdagings en uitsonderings,” sê Andries van Zyl, senior landbou-ekonoom by VinPro.

Terwyl sekere streke deur droogtes geteister is, is daar in ander streke rekordoeste behaal. Verder het die wisselkoers ook nie altyd saamgespeel nie en was die rand in Januarie verlede jaar 40% swakker as dieselfde tyd in 2015. Die laer inkomste en skerp kostestygings wat hierdie twee tendense meegebring het, het groot druk op wyndruifprodusente geplaas.

Balanseertoertjie

“Dit bly ’n balanseertoertjie vir produsente om kostestygings te absorbeer terwyl inkomste nie hiermee tred hou nie,” sê Andries.

Dit kos reeds oor die afgelope nege jaar jaarliks tussen 6% en 10% meer om wyndruiwe te produseer. In 2016 het produksiekoste met 7% tot R44 390/ha gestyg, wat kontantuitgawes en voorsiening vir vervanging insluit.

Hoewel alle kostes toegeneem het, is dit veral arbeidskostes wat vinniger as ander kostes gestyg het. Arbeidskoste verteenwoordig 42% van die totale kontantuitgawes en het in 2016 met 7% toegeneem.

Die gemiddelde wynprodusent se winsmarge is reeds die afgelope 10 jaar onder druk. Danksy rekordoeste het totale inkomste van 2012 tot 2014 ’n goeie hupstoot gekry, maar inkomste het in 2015 en 2016 verswak weens kleiner oeste en uitbetalings wat in die meeste gevalle nie met inflasie tred gehou het nie.

Winste nie volhoubaar nie

Die dalende netto boerderyinkomste van R6 702/ha is steeds laer as die helfte van die riglyn vir volhoubare wyndruifproduksie van R21 000/ha. Van hierdie bedrag moet ondernemersloon, renteverpligtinge en belasting nog verhaal word.

Slegs 13% van die deelnemende wyndruifprodusente verdien ’n netto boerderyinkomste bo hierdie riglyn, terwyl 47% gelyk uitkom of ’n laer netto boerderyinkomste verdien, met 40% wat ’n verlies ly.

Dit gee daartoe aanleiding dat sommige produsente nie kapitale instandhouding, soos die vervanging van ouer wingerde of toerusting, kan volhou nie. “Dit kan reeds gesien word aan ’n toename in die getal wingerde ouer as 16 jaar, wat in die langtermyn ’n negatiewe effek op produksie sal hê,” sê Andries.

Hoewel dit ’n uitdaging bly om die syfers te laat klop, moedig VinPro produsente aan om hul kostes noukeurig te bestuur ten opsigte van die uiteindelike wyndoelwit en insetkostes per blok. Deelname aan die VinPro-studiegroep bied produsente die geleentheid om gedagtes te wissel en saam oplossings te vind.

Die volledige Produksieplan-resultate verskyn in die April- en Mei-uitgawe van WynLand.